Die Witperd Nota: Uitgawe 13
Geagte Ouers – Die bekende onderwyser en TED Talks-bydraer, Rita Pierson, sê: “Elke kind het ’n kampvegter nodig.”
Ek het hierdie frase al dikwels in gesprekke met ouers gebruik. Ons moet nooit bang wees om ’n kampvegter vir ons kinders te wees nie – of dit nou ons eie kinders is, dié van familie of vriende, of die kinders wat elke dag voor ons in die klaskamer sit. Die manier waarop ons vir hulle ’n kampvegter is, is egter net so belangrik. Soms beteken dit dat ons namens hulle moet praat, terwyl ons hulle ander kere eerder moet ondersteun om hul eie stem te ontwikkel, asook die selfvertroue om daardie stem te gebruik.
Wanneer ’n kind sukkel, is ’n ouer se natuurlike instink dikwels om die probleem op te los. Een van die waardevolste vorme van ondersteuning is egter om die kind te help om die vermoë te ontwikkel om self moeilike situasies die hoof te bied.
Of die uitdaging akademies, sosiaal, emosioneel of op die sportveld is, glo ek ouerondersteuning behoort op die volgende beginsel gegrond te wees:
Ondersteuning beteken nie dat ons die uitdaging verwyder nie; dit beteken dat ons die kind help om sterk genoeg te word om dit self te hanteer.
Ek wil graag die volgende praktiese stappe met u deel:
-
Luister voordat u die probleem probeer oplos. Vra: “Wat het gebeur?”, “Hoe het dit jou laat voel?” en “Wat dink jy kan jy doen?” Vermy dit om onmiddellik die onderwyser te skakel, ’n ander ouer te konfronteer, ’n tutor aan te stel of die afrigter te blameer. Soms het kinders in die eerste plek bloot nodig dat daar na hulle geluister word.
-
Skei die kind van die probleem. “Jy het met hierdie toets gesukkel” is baie anders as “Jy is swak in wiskunde.” “Jy is nie vir die span gekies nie” verskil van “Jy is nie goed in sport nie.” Mislukking is ’n gebeurtenis, nie ’n identiteit nie.
-
Erken gevoelens sonder om toe te laat dat gevoelens alles bepaal.’n Kind kan teleurgesteld, kwaad, verleë of bang wees – en daar kan steeds van hom of haar verwag word om gepas daarop te reageer. ’n Nuttige boodskap is: “Ek verstaan waarom jy so voel. Nou, wat gaan ons daaromtrent doen?”
-
Moenie te vinnig tot die redding kom nie. Wanneer ouers her-haaldelik gevolge uit die weg ruim, elke stryd namens hul kinders voer of by elke meningsverskil ingryp, kan kinders begin glo dat hulle nie sonder die ingryping van ’n volwassene kan klaarkom nie. Vra eerder: “Is dit iets wat my kind met my leiding self kan hanteer, of is die ingryping van ’n volwassene werklik nodig?” Afknouery, mishandeling, ernstige veiligheidskwessies en aanhoudende, ernstige probleme vereis wel die ingryping van ’n volwassene.
-
Fokus op dit waaroor die kind beheer het. Kinders kan nie beheer of hulle die mees talentvolle leerder is, of almal van hulle hou, of die skeidsregter ’n verkeerde beslissing maak, of hulle vir die A-span gekies word nie. Hulle kan egter hul voorbereiding, inspanning, gedrag, oefening, eerlikheid, houding en die manier waarop hulle op teleurstelling reageer, beheer.
-
Weet wanneer meer onder-steuning nodig is. Aanhoudende akademiese probleme kan assessering of gespesialiseerde ondersteuning vereis. Voort-durende sosiale isolasie moet aandag geniet. Beduidende veranderinge in ’n kind se gemoed, daaglikse funksionering, slaap- of eetpatrone, onttrekking, gevoelens van hopeloosheid of intense angs behoort professioneel geëvalueer te word. Om ’n kind se onafhanklikheid te ondersteun, beteken nie dat ons werklike nood of probleme ignoreer nie.
-
Laat ruimte vir hanteerbare mislukkings. ’n Vergete projek, ’n teleurstellende punt, konflik in ’n vriendskap of ’n wedstryd wat verloor is, kan seermaak, maar hierdie ervarings leer kinders ook beplanning, kommunikasie, nederigheid en veerkragtigheid. Die kinderjare behoort ’n relatief veilige omgewing te wees waarin kinders kan leer hoe om te misluk, weer op te staan en aan te gaan.
-
Prys inspanning – maar ook strategie en verantwoordelikheid. “Jy het hard gewerk” is waardevol, maar gaan ’n stap verder: “Jy het hierdie keer vroeër begin leer en hulp gevra toe jy iets nie verstaan het nie – dit was verantwoordelik.” Kinders moet leer dat verbetering gewoonlik die gevolg is van inspanning + die regte strategie + volharding. doeltreffende strategie + volharding.
Mag ons almal aanhou saamwerk om hiervan die Beste Jaar in die lewe van elke kind, tot dusver, te maak.
NS: Sommige boodskappe moet kinders gereeld hoor:
“Ek is lief vir jou, of jy wen of verloor.”
“’n Swak punt verander nie wat ek van jou dink nie.”
“Jy hoef nie die beste te wees nie. Jy moet wel jou beste gee.”
“Jy mag teleurgesteld wees.”
“Wat kan jy hieruit leer?”
“Wat gaan jy volgende probeer?”
“Ek is hier om jou te help, maar ek gaan nie alles vir jou doen nie.”
Dalk is die belangrikste onderskeid dié tussen ondersteuning en redding.
(Ondersteuning sê: “Ek sal langs jou stap terwyl jy leer om die berg te klim.”
Redding sê: “Ek sal elke berg uit jou pad verwyder sodat jy nooit hoef te leer klim nie.”)
Louwrens Strydom